Wie het nou al ooit gedink dat 100 dae in afsondering al verby is. As jy die boodskap kan lees moet jy verseker dankbaar wees. Geluk en dankbaarheid is twee woorde wat eintlik saam gelees moet word. Wanneer jy gelukkig is, is jy ook dankbaar. As jy dankbaar is straal jy van geluk en as jy gelukkig is sal ander dit raak sien. Jou dankbaarheid kan ander aanspoor om ook na geluk te soek.
Die volgende woorde kom nou by my op en ek weet dit is God wat vir my en jou kom sê, ANDER SE GELUK IS JOU DANKBAARHEID. Dankbaarheid begin by God. Om elke dag dankie te sê vir al die dinge, groot of klein, in jou lewe. Wanneer daardie persoon sien dat jy dankbaar is vir alles wat God in jou lewe vir jou doen en jy dit te volle uitleef, red jy daardie persoon se lewe. Want die geluk en liefde wat jy uit straal is soos die COVID 19 virus. Dit versprei soos 'n veldbrand.
As jy nou sit en terug dink, was die afgelope 100 dae afsondering, 'n tyd van dankbaarheid. Ja ons almal het seker baie waarmee ons worstel, maar weet jy wat, dit kon anders gewees het. Ek kom met 'n lied in my hart en sê dankie Jesus Christus, dat ek nog hier is, dat ek kos op die tafel het, dankie dat ek werk het al kry ek net 50% salaris, het dalk my werk verloor maar 'n nuwe deur het al weer opgemaak. Dalk het jy jou werk verloor en is jy in 'n doodloop straat. Wees dankbaar want Paulus skryf in 2 Kor 12: 9- My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk. Is dit nie waar jy wil wees nie?
Sê ons genoeg vir God dankie? Die enigste manier om die gevoel van dankbaarheid te kry is om dankie te sê, al moet jy 300 keer per dag dankie sê vir die selfde goed. Dit gaan nie verlore nie, dit is nie leë woorde nie. Die 300 keer sal in jou die gevoel van dankbaarheid wakker maak en sal die hunkering by jou kweek om nog meer dankie te sê. Dankbaarheid gaan jou help om verby jou verliese of pyn en seer te kyk en sal jou help om te fokus op wat lekker is, God se hand in jou lewe en die rol wat Hy in jou lewe speel. Ek dink nie ons besef hoe baie God elke dag vir ons doen nie, ons kyk baie dinge mis. Ons lees in Psalm 107:17-22, die gedeelte van die Psalm gaan oor die persoon wat die pad verloor het en dinge begin hom in haal. Sommige mense was dwaas in hulle opstand en het weens hulle eie sondes gely. Al hulle eetlus was weg, en die dood was naby. “Here, help ons!” het hulle geroep in hulle nood, en Hy het hulle uit al hulle ellende gered. Met ’n woord wat Hy gestuur het, het Hy hulle genees, en hulle van die dood weggeruk. Laat hulle die Here loof vir sy liefde, en vir al sy wonderdade aan hulle. Laat hulle dankoffers bring en met vreugde van sy dade vertel.
Ek dink nie ons sê genoeg dankie nie!! As ek kyk na die pyn en seer wat daar in die lewe is wil dit vir my voorkom asof my en jou dankbaarheid nie genoeg is om te getuig van God se goedheid nie. Kom ons volg Paulus se voorbeeld in Romeine 1: 8 Hier heel aan die begin wil ek vir julle vertel hoe ek vir God in die Naam van Jesus Christus dankie sê vir elkeen van julle, want die hele wêreld praat van julle geloof.
Dankbaarheid is iets wat in jou sal groei as jy die saad water gee. Dit word later'n leefwyse, iets wat vanself gebeur en dis ook nie moeilik nie. Ek het iewers gelees dat een manier om te help om in dankbaarheid te groei is om wannner jy vanaand in die bed lê, en elke geval sukkel om te slaap, terug te dink aan wat vandag gebeur het. Herroep alles en jy sal vind, jy het so baie om dankbaar te wees. 'n Voorbeeld is, daar is een persoon by die werk wat jy nie oor die weg kom nie en die persoon groet jou eerste, uit vrye wil. Ek gesels gister met my suster, en sy sê vir my 'n baie waar ding, wat met haar by die werk gebeur het. Iemand het sy werk verloor en moes sy kantoor kom oppak. Hy was woedend, kwaad verby, en het almal se dag ontsuur met woorde en woede. Soos sy sê, ek is dankbaar dat ek by die kantoor was, omdat ek dit beleef het hoe, negatief en kwaad die man was, want ek kon die geleentheid kry om deur my dankbaarheid vir hom te wys, dat hy eintlik dankbaar moet wees. God het 'n plan vir ons almal, en nie ek of jy weet wat dit is nie, maar dalk het die God 'n beter plan vir die man, Hy het hom iewers anders nodig. Hierdie oomblik is soos Dawid sal sê Psalm 103: 2 Ek wil die Here prys en nie al sy goeie dade vergeet nie. As jy die oomblike koester sal die terugdink aan allles wat in die dag gebeur het word dankbaarheid vinnig 'n gewoonte.
Wat kan jy onthou wat in die 100 dae van grendeltyd gebeur het? Wat staan vir jou uit? Sien jy nou, jy het baie oor oor dankbaar te wees. Wanneer jy dankbaar is neem die gevoel oor en wil jy net meer hê, jy hunkel na nog. Dis aansteeklik. Neem 'n "selfie" van daai dankbare oomblik en stoor dit in jou gedagtes om gereeld herinner te word aan die goedheid van God in jou lewe. Deel daardie "selfie" met ander, wys jou dankbaarheid aan God en sien die ander goed wat in jou lewe gebeur raak. Dit is so eenvoudig, deur jou dalnbaarheid aan ander n ander persoon in jou lewe , aan hulle te bevestig, sal die dankbaarheid in hulle wakker maak en God se goedheid waardeer.
Daardie geveg waarin jy jouself bevind kan opgelos word deur dankbaarheid vir wat jy het want Paulus skryf in 1 Kor 15:57 (BD) Maar ons is anders; ons het baie waarvoor ons vir God baie dankie kan sê. Jesus Christus het gewen en omdat Hy gewen het, het God ons saam met Hom wenners gemaak.
Ek sluit af met ' gedeelte wat ek op die YouVersion toepassing gelees het. Eintlik is dankbaarheid net ' n ander woord vir krag. Dit neem boonop elke dag toe as jy weet dat Hy wat al jou dank verdien, dit vir jou sê: Jesus sê dit soos mooi in Johannes 16: 25-33, lees dit gerus self. Jesus kom sê vir ons in [33] Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.
GEBED
Here, help my om dankbaar te wees te midde van die stryd in my lewe, En help my om op U te vertrou.
Dankie vir elkeen wat hier lees, dat U hulle oor my pad gebring het.
Dankie vir die 100 dae grendeltyd, tyd waarin ek U kon soek en gevind het.
Dankie dat ek die rustigheid in my het om te weet, U het reeds die wêreld oorwin het.
Dankie vir die voorreg om daagliks my vreugde en vrede in U te vind en my droom uit te leef.
AMEN
Comments