Markus 8:34-38
Ek het na 'n preek geluister en die Here het dit op my hart gelê om meer uit te brei oor die verse. Ek het gaan kyk na al die verskillende weergawes van die bybel om dit meer in lyn te bring met die lewe van vandag. Lees dit gerus voordat jy verder lees.
Ons sien elke dag in die media van hoe mense opstaan en sekere aksies loods. Byvoorbeeld BLM (black lives matter) en baie ander. Groot sportsterre en belangrike mense wat op hulle knieë gaan vir die aksie, opstaan vir iets waarin hulle glo, wat baie kostes aangaan om op 'n spesifike plek te wees.
Dit het my laat dink, sal ons bereid wees om ook in die publiek op ons knieë sal gaan om God eerste te stel. Uitgesproke raak oor dit waarin ons glo, in God, en die wêreld sal wys dat God eertse in ons lewens is. Dalk moet daar 'n veldrog geloods word Christ Matter / Jesus Eerste.
Die Nuwe Lewende vertaling stel dit so mooi, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis opneem en agter My aan kom. As julle probeer om julle lewe selfsugtig vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Kom ons staan op en gaan vandag op ons knieë voor die Here. Waar jy ook kan, gaan op jou knieë en stuur vir ons die video van hoe jy die Here loof en prys. Kom ons neem ons kruis op, getuig van God se goedheid, erken dat Hy die Christus is, dat Hy die enigste oplossing is vir al die wêreld se probleme, die seer wat in die wêreld is, wat maak dat ons net vir onsself wil lewe.
Die Boodskap druk dit baie duidelik uit, God gaan met niks minder tevrede wees nie. Dit is nie maklik nie, soos daar staan, dit is om jou eie doodsvonnis te teken. Dit is hoe ernstig God oor dit voel. Ons doen dit nie om aandag op onsself te vestig nie maar om God eerste te stel. Om vir God die eer te gee, om tot God te nader vir die regte redes en om God te vra om alles wat in die lewe gebeur te verander. Om vir ons hemel op aarde te gee terwyl ons nog leef. Ons kan dit slegs kry as ons God eerste stel, wanneer jy jou kruis optel en dra.
Daar word so maklik uitsprake gemaak oor baie dinge, elkeen het sy eie mening, en is gou om iets oor dit te sê. Dit is nie belangrik nie. Jou uitspraak gaan niks kan verander nie. Hoekom dit dan doen? Hoeveel geld word daar nie aan hofsake en verhore gespandeer om iets te beveg nie. Ek is seker dit is miljoene rand wat uitgegee word wat dalk net oor een persoon of groep se mening gaan. Hoekom nie die geld spandeer op die koningkryk van God nie.
Ons lees in 2 Petrus 3: 9 oor die wederkoms van Jesus [9] Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.
Petrus druk dit so mooi uit in 11-15 Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt. Maar ons leef in die verwagting van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe. En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word.
Commentaires