Dit is die laaste gebed wat Jesus gebid het voor Hy gevange geneem is. Ek staan stil by Joh 17: 20-26.
Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet. “Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het. “Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.
Hierdie gebed is seker een van die mees belangrikste gebede wat Jesus gebid het. Jesus begin deur te bid dat Hy bid nie net vir die dissipels nie maar vir die wat deur hulle woord tot geloof gekom het. Dit is ek en jy!!! Die vraag is nou, het jy tot geloof gekom? Want as jy nie het nie, is die gebed nie vir jou nie. Wat beteken dit om tot geloof in God te kom? Dit is om God in alles te vertrou, jou hoop op Hom te vestig, en alles aan Hom oor te laat. Is daar nog goed wat jy nog nie met totale oorgawe vir God gegee het nie? Doen self ondersoek, kyk deur jou hart met God se bril en jy sal vind dat daar nog baie is wat nog jou aandag nodig het. God weet dit klaar, dit is jou verantwoordelikheid om dit vir Hom te gee.
Hy bid ook verder dat hulle een mag wees. Wat beteken dit om een te wees? God en Jesus is een en God het Sy Seun gestuur om vir ons sondes te sterf. Is jy bereid om jou kind te offer vir ander se sondes? Dit is wat dit beteken om een te wees. Daar is nie geheime tussen julle nie, julle speel altyd oopkaarte met mekaar, verdra mekaar, vergewe mekaar, lewe in liefde saam. Die heerlikheid wat God en Jesus saam beleef is 'n heelikheid wat nie met woorde beskryf kan word nie. Dit is iets wat jy weet wat jy het net as jy dit beleef. Jesus het dit klaar vir ons gegee, ons moet dit net in ontvangs neem. Dit is Jesus se wens dat ons dieselfde heerlikheid sal beleef wat God en Jesus saam beleef. Die heerlikheid begin by tussen jou en Jesus, dan tussen Jesus en God en dan tussen God en ons almal, slegs dan sal ons volkome een wees.
Jesus wil hê dat ons by Hom moet wees net soos Hy by God is. Dit is Sy gebed en watter teleurstelling sal dit nie wees as ons Jesus terleurstel nie. Gaan soek die heerlikheid wat Jesus reeds vir jou gegee het in jou lewe, bid dat jy die heerlikheid sal vind en uitleef, slegs dan sal ons volkome een kan wees met Jesus en met God. As ek na die gebed luister is dit Jesus se versoek dat ons almal een moet wees. Wat kan ek en jy doen om een met God te wees? Ons moet dus 'n eenheid vorm!!
Wat beteken 'n eenheid? 'n Eenheid is 'n groep mense wat saam staan en handel as 'n eenheid. Net om saam te staan gaan jou nie deel maak van die eenheid nie, jy moet ook handel, 'n bydrae maak om die eenheid te versterk en te vergroot. Wanneer die eenheid saam staan vorm dit 'n kragtige mag wat onstuitbaar is. Dit is tog wat Jesus, God en Heilge Gees is. Dit is onstuitbaar en kragtig.
Kom ons word deel van die eenheid deur onsself beskikbaar te stel vir die eenheid. Vra vir Jesus leiding en want Hy het reeds die heerlikheid vir jou gegee. Daar staan 'n deur tot deur aflewering voor jou deur, as jy dit nie ontvang nie, gaan jy nie weet wat daarin is nie. Baie keer is mense so opgewonde dat jy die pakkie oopmaak nog voor die deur agter jou toe gemaak is. In die pakkie is Jesus se heerlikheid, se liefde wat Hy persoonlik laat aflewer het. Ontvang dit, jy het geteken vir dit, dus kan jy nie later sê jy het nie ontvang nie. Dit is die pakkie wat jou lewe verander, jou 'n nuwe lewe gee. Dit is die pakkie wat die heerlikheid wat daar tussen Jesus en God is vir jou bring. As jy dit ontvang sal ons volkome een wees, ons in Jesus en Jesus in God.
Dit was Jesus se laaste versoek hier op aarde ons kan dit nie ignoreer nie. Moenie die pakke waarvoor jy geteken het in kas bêre of weggooi nie.
Sê vir jouself, EK ONTVANG DIE PAKKIE WAT JESUS VIR MY GESTUUR HET.
Comments