Ons lees in Prediker 3 dat elke ding 'n vaste tyd het.
Dit is vandag 1 September 2020. Die begin van 'n nuwe seisoen. Dit is tyd om...............
Dit is tyd om te vergeet van die koue, nat winter wat verby is. Die tyd van onsekerheid, twyfel en vrees vir die toekoms. Die rose is gesnoei en daar is nuwe uitloop op al die plante. Selfs die natuur maak sy vernaderings om voor te berei vir die somer wat voorlê.
Dit is tyd om ook ons denke te vernuwe, te fokus op God, om positiewe energie deur God se Gees uit te leef, deur om te gee vir ander. Om te vergewe en vergeet want die winter is verby, die oud dooie takke is uitgesnoei.
Dis tyd om nou op God te fokus, Hom in alles te ken, te vertrou en jou hoop in Hom te vestig. Jy is dalk deur moeilike tye wat finansies aan betref, jy het dalk jou werk verloorof dalk iemand verloor. Dit is hoe die rose voel as die takke afgesny word en weg gegooi word. Die roosboom vertrou die eienaar om hom reg te snoei sodat hy weer mooi kan uitloop en pragtige blomme te maak. Dit is God in jou lewe, Hy het jou reeds klaar gensoei en die nuwe uitloop is reeds besig om hulle verskyning te maak. Daar die pragtige nuwe takke, die takke liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, nederigheid en selfbeheersing.
Dis tyd om die positiewe energie om te sit in dade, om te getuig, die wêreld te vertel hoe wonderlik God in jou lewe is. Hoe God jou deur die pandemie gedra het, jou lewe verander het. Tenspyte van die swaar, is jy vanoggend by die begin van 'n nuwe seisoen in jou lewe. Jy het opgestaan met die skoon en nuwe gedagtes, die hoop van 'n nuwe lewe saam met God.
Dis tyd om te vergeet van wat gister gebeur het, gister se twyfel, gister se seer. Dis tyd om nou jou drome na te jaag. Daai droom na te jaag en te glo dat dit reeds besig is om waar te word.
Dis 'n tyd om te vergewe, begin by jouself. Vergewe jouself oor dit wat jy dalk gedoen het of gesê het. Vergewe jouself dat jy getwyfel het in jouself, getwyfel het in God. Dis verby, God het jou vergewe, nou is dit jou beurt om jouself te vergewe.
Dis tyd om te besef dat jy 'n nuwe mens is, nuut geskape deur die Gees van God. Jy is skoon gewas met die bloed van Jesus. Dis tyd om te aanvaar dat God in beheer is van jou lewe en om te luister na Sy stem.
Dis tyd om te besef dat die nuwe seisoen, jou seisoen is. Waar jy volkome oorgelewer gaan lewe in die teenwoordigheid van God. Waar God na jou stem sal luister, jou drome en hoop vir Hom belangrik sal wees en dat God sal voorsien op wat jy gehoop het.
Dis tyd om Sy verlossing vandag te aanvaar en met die hoop die nuwe seisoen binne te gaan en saam met God die seisoen van liefde binne te gaan.
Dis tyd om te aanvaar dat God se plan in werking tree in jou lewe. Voorspoed en nie teespoed nie, liefde en nie haat nie, eensgesindheid en nie twyfel nie.
Die Prediker skryf 3:11-14
God het alles mooi en op die regte tyd gemaak. Toe het Hy die mense iets laat verstaan van hoe sy soort tyd werk, maar die mense kon niks daarvan verstaan nie. Absoluut niks nie. Toe het ek besef al wat die mens maar moet doen, is om gelukkig te wees en die lewe te geniet. Om tussen al die harde werk deur nog te kan eet en drink en gelukkig te wees is ’n geskenk uit die hand van God. Ek weet dat alles wat God doen, vir altyd sal bestaan. Niemand sal iets daarby voeg of iets daarvan wegneem nie omdat God te groot en te sterk is.
Die tyd is nou om die lewe te geniet, om vrolik te wees. Sing 'n nuwe lied en begin die nuwe seisoen, die seisoen van groei saam met God.
Laat God toe om die nuwe uitloop, die geestelike groei, in jou lewe te laat gebeur. Sê vir jouself, hierdie seisoen is jou seisoen. Wat verby is is verby, dis vergete, "gone". Kyk voorentoe en vertrou jouself en wees gelukkig en geniet die lewe.
Nie ek of jy kan dit verander nie. God gee aan jou die nuwe seisoen, vat dit en leef voluit vir Hom.
Hoor wat sê die prediker in 3: 22 Die lewe het my geleer dat die mens dit waarmee hy hom elke dag besig hou, maar moet geniet. Hy kan eintlik nie iets anders nie, want niemand weet wat hierna in die dood gaan gebeur nie.
Deel die seisoen, die goeie nuus, met ander. Gee vir hulle ook die nuus dat die seisoen van die nuwe, ek, aan die gebeur is. Gee vir hulle die hoop om te weet dat die nuwe groei ook in hulle gaan plaasvind. Hulle moet net toelaat dat die Gees die nuwe uitloop, die nuwe roos, in hulle wil laat opkom.
Almagtige Vader, dankie vir die nuwe seisoen, seisoen van hoop en liefde in ons begin vandag. Help ons om die groei wat U in ons ontwikkel, nuwe blomme van vreugde vir die lewe sal wees, vol kleur, geluk en voorspoed. AMEN
Opmerkingen