Dit moet elke dag 'n instelling wees om eers saam met God te begin. Ek het al die boeke van Louis Malherbe gelees en wat my baie van sy werk getref het was die woorde - maak die rooidag wakker.
Dit is iets wat ek hard probeer om te doen, die nuwe ontmoeting met God elke dag, maak dat die dag op 'n baie goeie noot begin. Die geestelike vervulling is regtig aansteeklik.
Hoekom die rooidag wakker maak?
Dawid skryf in Psalm 5, help my om U wil te doen is die opskrif. Hoor wat sê hy in vers 4 - U luister na my stem in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.
Ek kan nie onthou wanneer laas ek 'n wekker gestel het om wakker gemaak te word nie. Ek is nou al so ingestel om die rooidag wakker te maak. Dit is verseker God wat my saggies op die skouer kom klop en in my oor fluister, dis opstaan tyd want ek wil baie met jou deel. Dis regtig hoe ek dit ervaar, in die oggend wanneer die huis stil is, is die beste tyd vir my, om te hoor wat God vir my wil sê en ook opdragte gee. Dit is wanneer ek na God toe uitreik. Ek kan persoonlik getuig dat dit vir my die beste deel van die dag is. Om die Here so vroeg te soek is die mees vervulde oomblik en om jou dag so te begin maak al klaar die dag beter as die vorige dag.
Probeer dit gerus, jou dag sal 200% beter wees en uitwerk soos God dit wil hê. Die dag gaan baie beter wees as wat ek en jy gedink het dit gaan wees.
Ons word baie oggende wakker met die wete dat ek moet nog dit of dat doen, die epos moet nog gestuur word wat jy vergeet het om te stuur en baie belangrik is of dalk die gedagtes wat deur die ou duiwel in jou kop geplaas word sodat jy juis nie voor God stilraak nie.
Dit is elke dag 'n seën en wonderwerk om jou oë oop te maak, hoekom sal ons nie eerste vir God die eer gee vir die voorreg om die dag saam met Hom te begin nie.
Ek kan getuig dat daardie ander dingetjies nie eers'n rol gaan speel in jou dag nie, dit alles sal gebeur en afgehandel wees voor jy jou oë uitvee. Die Here gaan jou gedagte so instel op sy radiostasie dat die ander dinge nie eer meer bestaan nie.
Probeer dit, jy het NIKS om te verloor nie.
Comments