My bybelse rolmodel, Paulus, skryf 'n brief vir die gelowiges in Kolosse met die doel om hulle prioriteite in orde te kry.
Hy skryf in Kolossense 4: 2-25, met die opskrif "bid en tree met wysheid op"
'Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar en bid tegelykertyd ook vir ons. Bid dat God vir ons 'n deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig waarvoor ek hier gevange sit. Bid dat ek dit duidelik sal verkondig soos dit my opgelê is. 'Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid.
Nou kom die vraag by my op, bid ek en jy genoeg? Hy gee verdere raad, wees waaksaam en dankbaar. Wat bedoel hy hiermee?
Waaksaam - Fokus op die dinge wat rondom jou gebeur, sien God se hand in alles. Dalk het jy gevoel jy het swak gedoen in jou vraestel wat jy geskryf het, en as die uitslae kom het jy met lof geslaag. Of as jy werk toe ry en jy kry net die gevoel om by die verkeerslig 'n paar sekondes langer te wag en 'n motor kom oor die rooilig verby gejaag. In die vergadering wat maak of breek is vir jou besigheid, en die klient stuur 10 minute nadat dit verby is vir jou 'n epos, dat hulle besigheid wil doen en aanvaar jou voorstel.
Dit alles is God se hand wat jou beskerm het, wat jou genoeg insig gegee om die toets te slaag of die klient se gedagtes so gevul het om jou besigheid te gebruik.
Dankbaar - Die Here wil hê ons moet dankbaar wees vir die klein dinges wat ons net aanvaar gebeur omdat dit gebeur.Dankie Here dat ek die toets geslaag het, of daai paar sekondes langer gewag het om 'n groot ongeluk vry te spring of die klient wat besigheid wil doen in 'n gevordere stadium met baie meer as wat ons onderhandel het.
Wanneer jy hierdie dingetjies raak sien en God dank daarvoor is ek oortuig dat Hy sy woord gaan gebruik, deur die Heilige Gees, om jou toe te laat om sy woord te verkondig. Soos Paulus vra dat daar gebid word om vir hom 'n deur oop te maak vir die woord, sal dieselfde vir jou gedoen word. DIt is tog die doel hoekom ons hier op aarde is. Jy wat dalk vir jou mede studente vertel het jy gaan dit nie maak nie en dan wel slaag deur die hand van God dit gemaak het, dra soveel krag in die verkondiging van God se woord. As jy vir jou kollegas by die werk vertel dat 5 sekondes se wag by die rooilig, jou lewe gered het, dra geweldige krag wat God wil hê ons moet gebruik om ander nader aan God te bring.
Ek wil afsluit met die laaste gedeelte van vers 5 - Maak die beste gebruik van elke geleentheid.
Is hierdie nie klein dingetjies wat gebeur nie 'n geleentheid wat ons laat verby gaan nie.
Kom ons raak meer bewus van die dinge wat die Here in ons lewens elke dag laat gebeur en dank hom daarvoor maar die belangrikste is om te gaan vertel van God se genadige hand in jou lewe.
Dankie Here dat U my kom bewus maak van die klein dingetjies wat U in my lewe vir my doen. Help my om meer bewus te raak van al die klein dingtjies en om U te loof en te prys daarvoor en gee my ook die krag om dit te deel met ander. Help ons om dit te doen soos ons dit van U af ontvang het.
Comments