Bid in geloof
Jakobus, Jesus se broer, skryf die brief aan die eerste geslag christene wat buite Palestina gebly het. Die doel van die brief is om die gelowiges aan te moedig om te volhard in beproewings en om hulle geloof parkties uit te leef. Lees gerus die boek, dit is aangrypend.
Baie van ons is so geneig om wanneer ons bid 'n rympie op te sê. Ons bid altyd dieselfde goed. Die Here wil hê dat ons tot volle geestelike rypheid kom en dit kan net gebeur as ons al die beproewinge deurstaan in geloof.
Wanneer jy voel jy bereik nie vir God nie sê Jakobus in vers 5 - As julle in 'n situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen, gaan vra vir God. Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie. Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het. Gaan vra; Hy sal gee.
Wanneer ons vra moet ons gelowig wag op 'n antwoord van God. Ons moet God toelaat om dit te hanteer en Hy sal wanneer die tyd reg is vir alles sorg. Ons is so geneig om alles self te wil hanteer en dit is eintlik 'n klap in God se gesig want Jakobus sê in vers 6 - Maar een ding moet julle nie doen nie. Moenie twyfel of God julle regtig sal help nie. Verwag en weet verseker dat Hy sal help. Mense wat twyfel of God regtig na hulle sal luister, is soos golwe op die see. Die wind waai daardie golwe heen en weer. Die een oomblik sien jy dit en die volgende oomblik is dit weg.
Wanneer ons God vra moet ons verseker weet dat Hy sal luister en nie net luister nie maar ook optree. Die bekende vers in Matteus 7:7 - Vra en vir julle sal gegee word, klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra,ontvang, en elkeen wat soek kry, en elkeen wat klop, sal oopgemaak wrod.
'n Baie goeie voorbeeld vind ons in 1 Kon 3:9-14 - Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek die volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer. Hy Het vir hom gesê. Omdat dit jou versoek is en jy nie vir 'n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is, sal Ek aan jou versoek voldoen. Ek gee aan jou wysheid en insig soos niemand voor jou gehad het nie, gee Ek aan jou rykdom en aansien, sodat daar onder die konings niemand soos jy sal wees nie solank jy leef nie. As jy in jou optrede hou aan my voorskrifte en gebooie soos jou vader Dawid gedoen het , sal Ek jou ook nog 'n lang lewe gee.
Ek kom nou tot die besef dat ek en jy dalk net verkeerd vra of vra met ons eie wysheid en nie met God se insig en krag vra nie. Ons moet onsself begin leer om te bid in geloof. Soos Salomo gedoen het. Vir die insig en wysheid om reg op te tree.
"n Goeie voorbeeld hiervan is, en ek besef dit nou, is, my seun het nou graad gekry en is opsoek na werk, en so bid ons dat die Here vir hom werk sal gee, en eintlik moet ons bid dat die Here hom insig sal gee na waartoe hy sy aansoeke moet stuur. Dalk 'n advertensie op die radio luister en die maatskappy se naam kry, en dan hulle nader.
Ons moet bid vir meer insig.
Comments